VAN DIE REDAKTEUR
HET JY GEWEET? DIS al Huisgenoot se derde uitgawe van Het Jy Geweet? en met elke tydskrif besef ek opnuut hoe min ons eintlik oor die fassinerende wêreld om ons weet en hoe lekker dit is om iets nuuts te leer. En die heerlikheid daarvan om nuuskierige kinders te hê, is dat ons saam met hulle slimmer word wanneer ons hul baie vrae oor die wêreld probeer beantwoord. My sewejarige dogtertjie is tans behep met diere. Ons kyk dus gereeld programme oor allerhande gediertes of lees boeke daaroor, en so word die hele gesin amper terloops allerhande interessante feite wys. Ek weet my dogtertjie gaan versot wees op die nuutste uitgawe van Het Jy Geweet?, want dit bevat ’n groot afdeling oor diere. Dit sluit in Groot Diere (wat op bl. 6 begin)…