KOSPRAATJIES
Ek was nog altyd een vir ’n seremonie . . . Ek hou daarvan om elke oomblik in my lewe te vier. Veral groot oomblikke, dan gaan ek gróót! Want ons moet trots wees op alles wat ons doen. Elke taak of mylpaal – groot of klein – verdien ’n viering. Dit motiveer ons om harder te werk sodat die suksesse groter en beter sal wees. Vir my was die geleentheid om die kosredakteur van SARIE te word seker een van die grootste mylpale in my lewe, een waarvoor ek nooit genoeg dankie kan sê nie. Die kans wat Michélle van Breda geneem het om ’n basies pas afgestudeerde met relatief min werk- en lewensondervinding aan te stel, was ’n groot risiko, maar ek wou aan haar bewys dat sy nie…