KOSPRAATJIES
In April 1997 swaai die deure van my ma, Susan, en haar vennoot, Dienie Pienaar, se tuisbedryf by Koöperasiestraat 3 op Upington oop. Dié tuisbedryf – Sandies genoem – was alles waarvan my ma gedroom het en moes soos iets uit ’n tydskrif lyk. Die mure is in sagte kleure met donkergroen aksente geverf. Die rakke, met stroke katoenkant op die rande versier, het gesweef onder donkergroen sinkdakkies wat my pa opgesit en netjies afgerond het met broekiekant soos ’n Karoostoep. Hier is die tuisgebak uitgestal in die mooiste plastiekhouers waarvoor sy die hele Kaap platgery het, want haar tuisbedryf se gebak sou nie in plastieksakke verpak word nie. Alles moes elke dag perfek wees – dit was ononderhandelbaar – en die verskeidenheid ruim. Noem dit en dit het op daardie…