Is dit tyd om te trek?
Oor die afgelope 8 jaar sedert Platteland se ontstaan het ons danksy die tydskrif op vele plekke reg oor die land uitgekom. Wat ’n voorreg en plesier! Hoevéél keer al het ’n dorpie ons bekoor: Kaapsche Hoop, Albertinia, Rooiberg, Soutpan, Nottingham Road, Nieu-Bethesda, Biesiesvlei, Vanwyksdorp, Barberton, Val, Nieuwoudtville, Bloemfontein… (Toemaar, dis net ’n grappie.) Die lys is eindeloos. Die bekoring, het ons agtergekom, het meestal te make met die mense wat daar woon, maar dis die beskikbaarheid van water wat die hart laat vermurwe. Dis maar hoe dit gaan met plantliefhebbers, tuiniers en groentetuinmakers. (Goed, Askham en Soutpan het ander bates!) Ieder geval, so kruip die dorpies in ons hart, een ná die ander. Maar nog nooit het ’n plek ons voete so onder ons uitgeslaan soos Swellendam nie – selfs al…