Op die randjie van die Swartland, op ’n weggesteekte plek waar jy Tafelberg, die Tygerberg, Franschhoekvallei én die Stellenbosse berge almal tegelyk kan sien, nestel ’n prentjiemooi plaas wat net so gul en hartlik is soos die ontvangs wat jy van die huismense ontvang.
Op Leeuwenkuil word die lewe in die oortreffende trap geleef. Die plaas behoort tans aan ’n sesde geslag Dreyer, Willie, en sy vrou, Emma. Die landgoed se geskiedenis kan nageslaan word tot 1693 – ’n tyd toe Kaapse leeus nog in die omgewing gejag is en die plaas Schinderkuijl geheet het.
Die plaaswerf het vandag nog dieselfde uitleg as in 1704 met twee lang huise, buitegeboue en veekrale. Die opstal, wat gebou is deur ’n eksentrieke voorsaat, Arij van Wijk, het ’n gewel in die vorm…
