Langs ’n fontein trek ’n knus boetiekwinkel dadelik die aandag. Binne flikker kerse gewyd in ’n spierwit ruimte waar die geestelike en die estetiese ontmoet. Madonna & Child is die delikate droom van ’n ma-en-dogter-span, Bea (Beatrice, 50) en Jeanne (23) Emslie.
Oor die ingang pryk ’n portet van die Maagd en haar Kind, dubbel in goud geraam. Teen twee houtlere word lieflike lappe uitgestal. Die keurprodukte sluit in handgeborduurde kussingslope, bedkussings, hekelwerkversierings, luukse badsepe, Royal Doulton-teestelle, teesakkiehouers, tafeldoeke, serpe, skinkbordlappies en komberse.
Bea, ’n versamelaar van pragtige linne, se huis in Warmbad (Bela-Bela) word bevolk deur haar versameling honderde Madonnas van regoor die wêreld. In haar nagraadse verhandeling het sy op die verhouding tussen kuns en die heilige gefokus.
“My liefde vir linne het by my ouma Beatrice begin,”…