Sy is die mens-ma van ’n hele kaboedel diere: altesame 16 jagluiperds, 6 luiperds, 5 leeus, 6 rooikatte, 5 vlakvarke, 15 wildehonde, 52 bobbejane, en ’n stinkmuishond.
Voeg haar driebeenjagluiperd, Lucky, van Volkswagen Polo-advertensiefaam by, en haar dierekroos trek by 107.
Verder praat sy die Ju/’oansi-dialek van die San-mense vlot, speel op 39 nog vir Namibië netbal en ruil oor e-pos gesinsfoto’s met die aktrise Angelina Jolie uit.
Google haar, en die soektog spoeg resultate uit soos “The Cheetah Wisperer” en “The Lion Girl”. Marlice van Vuuren, heuningblond en bruingebrand, is die glansgesig van bewaring soos haar beroemde vriendin die glansgesig van Hollywood is.
Kykers het vroeër vanjaar in die omgewingsprogram Groen: Namibië op kykNET nader kennis gemaak met die bewaringswerk van Marlice en haar man, Rudie (43). Die 13…
