Beskut en kalmerend
“Kleur verander alles,” is Craig Watson se kommentaar oor dié binnehof in Vishoek, Kaapstad. Saam met sy sakevennote, Adam Lange en Albertyn Smit, het hy nuwe lewe geblaas in die buiteruimte van hierdie erfenishuis. Die mure, wat in ’n ligte roosskakering geverf is, laat die helderpienk bougainvillea wat stadig maar seker besig is om die agterste muur te bedek, omtrent uitstaan. Die vloer, met plaveisel in sirkelpatrone, is ’n knipoog na die hemel daarbo.
“Ons wou die effek van verskietende sterre kry,” verduidelik Adam. Elke sirkel is met gewone bakstene gevorm wat haarfyn gesny en gepak is. Op hulle beurt word die mure gekomplementeer deur die klassieke strepe op die kussings, wat ’n speelse, tydlose gevoel skep.
Kelkies, kleur & kurwes
Vir hierdie projek is die hulp…
