Van die REDAKTEUR
Sommige maande is net wilder as ander en hierdie was een van hulle. In ’n roesemoes van jaareinde-belasting, reisreëlings, partytjiebeplanning en hierdie uitgawe wat moet drukkers toe, het die nuus dat ons e-pos vir ’n hele dag af gaan wees, my laat voel asof ek in ’n bus sonder remme by ’n afdraandpad afstorm. Geen beheer nie. Totdat ek diep asemgehaal en besef het hierdie onderbreking is presies waarvoor ek gewag het - ’n oomblik van stilte in die storm. En in die kosbare ure sonder e-posse wat inkom en beantwoord moet word, het ek meer uitgerig gekry as in die voorafgaande twee weke. Ek kon skryf met volle fokus, liasseer, regpak en elke item op my aftiklysie sistematies takel en afhandel. Die goed wat gestuur moes word, was almal gereed…