VAN DIE REDAKTEUR
Die ink was skaars droog op die Italiaanse regering se besluit om hul grense vir Suid-Afrikaanse toeriste oop te maak, toe is my kaartjie bespreek. Ek soek immers al meer as ’n jaar lank aanlyn vir ’n plekkie daar en nou kon ek uiteindelik gaan kyk. Laatmiddag op die Donderdag kom ek by my hotel aan en Vrydagoggend is die agent voor die deur. Tien huise later kom ek stokflou terug in my kamer aan. Die Noorde se bergdorpies is nie vir sissies nie. Die naweek, met die eiendomsmark so toe soos die winkels tussen 12.30 en 3 op enige dag, kom ek op ’n wonderlike kosmark af. Soveel verskillende tamaties! Dis mos hoe dit moet wees. Nie net grotes en kleintjies wat almal wonderbaarlik ses maande in die yskas hou nie,…