VAN DIE REDAKTEUR
Toe ek meer as ’n jaar gelede ’n hoëvet-laekoolhidraatdieet my nuwe manier van eet gemaak het, was daar twee besonder heerlike pluspunte. Die eerste was die gereelde genot van brosgebraaide varkvet wat skuldvry kraak tussen my tande; elke keer as ons eet dat ons lippe sommer so blink, herhaal ek met ’n gelukkige glimlag: ‘Môre is ons weer ’n kilo af.’ En tweedens die bakke bessies wat deesdae in my yskas pronk – bloubessies en frambose om saam met jogurt en amandels vir ontbyt te eet, en aarbeie vir saam met room vir poeding op spesiale dae. Nodeloos om te sê het die twee kosartikels in hierdie uitgawe my sielsgelukkig gemaak. My hoofgereg vir Kersete is uitgesorteer en met ’n paar klein veranderinge die nagereg ook. Nou nog net die bakke…