Stedeling, skep moed! As jy nie kan wegbreek na groener weivelde nie, is daar nou vele wonder-like plaasmarkte in jou omgewing.
In al ons groot stede is daar deesdae sulke ouwêreldse handelsplekke met vars, gesonde en outentieke produkte in oorvloed. Jy voel jou tussen vriende. Die stalletjies word beman deur gawe mense, dikwels produsente, koskenners, kunstenaars en selfs sjefs.
Plaasmarkte is ’n groeiende tendens wat ’n sin van gemeenskap bou, meen Sheryl Ozinsky van die Oranjezicht City Farm. “Dit skep ’n lewendige openbare vergaderplek waar gemeenskapstrots en samehorigheid gedy.”
Isabella Niehaus, organiseerder van die Palms-mark in Woodstock, Kaapstad, stem saam. “Dis mos lekker om op ’n Saterdag na die mark in jou buurt te gaan, jou week se kos te koop, ietsie te eet, dalk ’n glasie wyn te drink…
