EXPLOREMY LIBRARY
searchclose
shopping_cart_outlined
exit_to_app
EXPLOREMY LIBRARY
searchclose
shopping_cart_outlined
exit_to_app
Die Tuinier Tydskrif

SIERLIKE   NATALSE ROOIPLUIM

Die Natalse rooipluim, wat in Engels as Natal red top of Natal grass bekend is, is ʼn baie treffende een of tweejarige in die grasfamilie Poaceae. Die genus Melinis, wat afgelei is van die Latyn “mel” wat heuning beteken, is beskrywend van die soet, stroopagtige geur wat deur sekere lede van hierdie genus afgegee word, en die soortnaam “repens”, die Latyn vir kruipend, verwys na die kruipende aard van die basis van die halms wat wortelskiet as hulle aan die grond raak.

Die Natalse rooipluim is wydversprei in KwaZulu-Natal en kom ook in die ander provinsies van Suid-Afrika voor, waaronder die Wes-Kaap, waar dit genaturaliseer geraak het. Dit word ook aangetref in Lesotho, Swaziland, Namibië, Botswana en Mosambiek, en verder noord en ooswaarts tot in die Arabiese Skiereiland, die Seychelle en Indië. In Suid-Afrika is dit ʼn baie bekende pionierplant in grasveld en word baie dikwels in versteurde grond langs paaie asook op rotsdagsome opgemerk.

Die plant wat in blom tot 600 mm hoog word, vorm ʼn pol van intense blougroen blare met donsige maroenpienk pluime wat aan skraal grys halms net bo die pol gedra word. Dit blom van die laatlente tot vroegherfs (Oktober tot Maart) met ʼn pragvertoning wat maandelank volg en die plante bly selfs mooi na blom. Die afsonderlike blompakkies wat die bloeiwyse uitmaak, is diep maroenpienk in die knop en as dit pas oop is, en raak geleidelik ligpienk en wit. Die plante is veral mooi in helder sonlig en vorm ʼn blink pienk massa.

Die Natalse rooipluim is rypgehard, wat beteken dit oorleef maklik wintertemperature van tot vriespunt, en kan dus oral buiten die koudste streke van Suid-Afrika gekweek word. Plant plante in kwekerysakke enige tyd van die jaar uit, of kweek dit anders van saad in diep saailaaie. Dit hou die eerste paar weke na plant van water, maar is baie waterslim as dit eers gevestig is. Dit groei vinnig, vaar die beste op ʼn sonnige plek, en hou van enige goed gedreineerde grond met ʼn bietjie organiese materiaal in, veral goed verrotte kompos, en groei ewe goed in ʼn suur of alkaliese groeimedium. Die plante is perfek vir rotstuinholtes, om as plate in groot beddings geplant of as rande vir hoer meerjariges gekweek te word. Die gras is ook sierlik vir houers, en is uitstekend om versteurde grond op steil banke te stabiliseer.

Hierdie polvormende plante vorm treffende kleurkombinasies as dit tussen somerblommende bolle soos dwergvorms van die vlamlelie (Gloriosa superba), pynappelblom (Eucomis autumnalis) en die meerjarige Barbertonse madeliefie (Gerbera jamesonii) geplant word.

Natalse rooipluim is gewoonlik in die tuinbouhandel verkrygbaar by kwekerye wat in veldblomme spesialiseer, soos Random Harvest Nursery (082 553 0598).

help