menu
shopping_cart
SARIE

KINDERTYD SE SEER . . . DAN KANKER, HARTSIEKTE

Foto Gallo Images/Getty Images

Raai, raai: Dit kan jou lewensverwagting met tot twintig jaar verminder. Jou risiko vir hartsiekte en longkanker verdriedubbel. In hoë dosisse kan dit jou breinontwikkeling benadeel en jou immuun- en hormoonstelsel aantas.

Só dodelik is dit, dit verhoog jou risiko vir sewe uit die tien grootste oorsake van sterftes in die Weste drasties.

Nie ’n plaagdoder of iets in polonie nie: Trauma in jou jeug.

Pas het ’n boek daaroor verskyn: The Deepest Well: Healing the Long-Term Effects of Childhood Adversity (Bluebird, 2018). Die Amerikaanse pediater dr. Nadine Burke Harris se belangstelling in die onderwerp is geprikkel deur ’n sewejarige pasiënt wat soos ’n voorskoolse kind gelyk het. Diego is op vier seksueel aangerand. Daarna het hy skynbaar ophou groei en ook asma, ekseem en gedragsprobleme ontwikkel.

Die neurowetenskap gee nou ’n biologiese verklaring vir wat ons gesonde verstand ons nog altyd vertel. Daar’s ’n onlosmaaklike verband tussen jou liggaam en emosies, die een beïnvloed die ander, volgens James de Villiers, sielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad.

“In antieke Hebreeus (Psalm 72:21) word emosies soos knaende verbittering en ’n gevoel van verontregting met onder meer ’n ‘prikkeling’ in die niere geassosieer. Vandag weet ons die byniere, wat streshormone soos adrenalien en kortisol afskei, sit bokant die niere,” sê hy.

Vir dr. Harris het Amerikaanse navorsing uit die negentigs, genoem die Adverse Childhood Experiences-studie (ACE’s), ’n liggie laat aangaan. Dit het naamlik op ’n verband gewys tussen negatiewe kindertyd-ervarings en jou geestes- en liggaamlike gesondheid. Sowat 67% van die meestal middelklas-deelnemers het minstens een ACE gehad. (Sien die kassie “Trauma en gesondheid”.) Dus waarskynlik ook ek en jy.

“Dit gaan nie hier oor die druip van ’n toets of ’n netbalwedstryd wat jy verloor het nie,” sê dr. Harris in ’n TED Talk, “How Childhood Trauma Affects Health Across a Lifetime”. “Maar oor bedreigings so ernstig en verreikend dat dit letterlik onder jou vel inkruip en potensieel jou gesondheid kan benadeel.” Soos mishandeling of verwaarlosing, ’n ouer wat geestesongesteld of aan dwelms/alkohol verslaaf is, egskeiding, dood of geweld in die huis.

Die liggaam se stresrespons is ontwerp om ons teen gevaar te beskerm, dis gesond, verduidelik sy. Jy loop in die bos en sien ’n beer. Jou hipotalamus stuur dadelik ’n sein na jou pituïtêre klier, wat weer een na jou byniere stuur: “Stel streshormone vry! Adrenalien! Kortisol!” Jou hart begin klop, pupille verwyd, jou lugweë gaan oop en jy is gereed om te veg of te hol. Goed as jy ’n beer in die woud teëkom. Maar wat as die “beer” elke aand in jou huis kom en die stelsel word oor en oor geaktiveer?

James sê: “Veronderstel daar is baie rusies en selfs geweld in jou ouerhuis. Jou verwagting maak die effek daarvan erger. Jou pa drink en raak dan veglustig. Die oomblik dat hy by die huis instap, selfs al is hy nugter, reageer jou liggaam reeds op wat moontlik kan gebeur. Jou liggaam is dus altyd op ’n gereedheidsgrondslag – veg of vlug. Ook in tye van vrede.”

Dus: As die stresrespons herhaaldelik geaktiveer word, word dit ooraktief en beïnvloed onder meer ons breinontwikkeling, immuunstelsel en hoe ons DNS “gelees” en “getranskribeer” (of uitgedruk) word. Hoë dosisse stres in jou kindertyd kan die brein se uitvoerende funksies inhibeer en impulsbeheer vir kinders en volwassenes moeilik maak, volgens dr. Harris.

In ’n artikel in The New York Times (www.nytimes.com)sê sy: “Ons sien op MRI-skanderings die hippokampus krimp, die deel van die brein wat belangrik is vir geheue en emosionele beheer. Die amigdala, die brein se vreessentrum, vergroot weer. Dit kan jou hiper-waaksaam maak, oorsensitief vir bedreigings en uitdagings. Dit kan ook die brein se plesieren beloningsentrum beïnvloed. Dis die deel wat deur dwelms, tabak, kosse met baie suiker, vet, ens. gestimuleer word. Jy kry dan minder plesier uit dié dinge en het meer daarvan nodig, wat tot afhanklikheid en hoërisiko-gedrag kan lei.”

Sulke gedrag verklaar egter net 50% van jou gesondheidsrisiko’s wat toeneem. Al drink en rook jy nie, is jou kans steeds groot om dinge soos hartvatsiektes, beroerte, kanker, diabetes en selfs Alzheimer se siekte te kry.

Eerstens is dit weens die impak van ACE’s op jou immuniteit. Daar is ’n toename in chroniese inflammasie en die risiko vir outo-immuunsiektes soos lupus en asma verhoog. ’n Kind met vier plus ACE’s se kans op asma verdubbel.

Tweedens is daar die impak op die manier hoe ons DNS “gelees” en “getranskribeer” word. Telomere, die buffers op die punte van chromosome, beskerm dit teen slytasie. Sekere dinge (soos besoedeling en as jy rook) het ’n effek op hoe vinnig jou telomere verkort en kan lei tot voortydige selveroudering. Só ook negatiewe jeug-ervarings.

Jý het geen idee waar jou gesondheidsprobleme vandaan kom nie. Sekerlik nie uit die verlede nie, want dié het jy mos agtergelaat, volgens The Deepest Well.

Trauma is boonop ’n kringloop: Dit beïnvloed nie net jou nie, maar ook jou nageslag. Só wys navorsing oorlewendes van die Joodse volksmoord se nasate het hul ouers (en grootouers) se ervarings onbewustelik/bewustelik in hul eie lewe geïntegreer, sê James.

Wat beteken dit vir Suid-Afrikaners, gegewe ons donker geskiedenis? En terwyl ons steeds met soveel trauma om ons leef ? In ’n studie met 2 041 leerlinge uit verskeie skole in Kaapstad en Nairobi, Kenia, het 80% blootstelling aan ernstige trauma gehad. Van hulle was 58% uit die Kaap ooggetuies van geweld, 14% van gesinsgeweld en nog 14% van seksuele aanranding. Sowat 22% het aan die kriteria vir posttraumatiese stresversteuring (PTSV) voldoen en nog 12% het simptome daarvan gehad. (Bron: South African Journal of Psychiatry, 2017.)

James: “Ons het blasé geraak, ons praat nie eintlik oor geweld nie, want almal het ervaring daarvan. Daar is ook sekondêre trauma, as iemand na aan jou dit beleef, raak dit jou ook.”

Waar begin genesing? Nié deur die simptome te probeer behandel nie. James sê: “Elke mens ervaar trauma uniek. Elkeen se storie moet deur sy eie bril gesien word. Daar moet met terapie teruggegaan word na daardie ervaring toe, dit moet oopgesluit word, die emosies en liggaam gedesensiteer en gedragspatrone verander word.” En daardie trauma kan reeds voor geboorte wees.

Dis waarom rehabilitasieprogramme van oortreders wat hoofsaaklik op die oortreding fokus, nie baie suksesvol is nie, volgens nog Amerikaanse navorsers wat op die ACE-studie voortgebou het. En waarom negatiewe ervarings uit jou jeug aan latere volwasse aggressie en misdadige gedrag gekoppel word. Insluitend huishoudelike en seksuele geweld, stalking en kindermishandeling. Dus: die slagoffer word later die aggressor. Hoe meer ACE’s, hoe groter die kans dat ’n kind as volwassene by aggressiewe, misdadige gedrag betrokke kan raak. (Bron: forensicpsychologist.blogspot.com)

Kry só ’n kind reeds vroeg sielkundige hulp, lyk sy breinskandering daarna méér na iemand s’n wat trauma-vry is, volgens dr. Harris in die TED-praatjie. In navorsing het sekere soorte ingryping (soos ouer-kind-psigoterapie) gehelp om die kortisolvlakke en stresrespons te normaliseer.

Moenie trauma (soos aanranding, of selfs ’n ernstige motorongeluk) se effek onderskat en in die doofpot wegsteek nie, waarsku James. Dis nié beter om stil te bly nie. Of ’n bietjie te praat en te dink dis nou verby nie. Selfs al pas jy daarna op die oog af goed aan, vergroot jou kans vir fisieke en emosionele gesondheidsprobleme.

As jy nie terapie kan bekostig nie? Volgens James moet ons hande vat en mekaar help om makliker daaroor te praat. Begin by jou kind met ’n eenvoudige: “Wat was lekker by die skool? Wat was nie lekker nie?” Ons moet ons stories ook wyer vertel, oor taal- en kleurgrense heen. Jy wil nie mense met joune belas nie, maar daar is tog dié met wie jy kan praat. Dis boonop nooit te laat nie. Vind eers afsluiting, maak klaar daarmee. En leef dan vir vandag.

Wat as die ‘beer’ elke aand in jou huis kom dr. Nadine Burke Harris, pediater

Boonop bepaal die manier hoe jy jou trauma hanteer, wat jou kinders met hulle s’n gaan maak, sê James. “’n Kind se intellektuele, emosionele en sosiale ontwikkeling hang in die eerste plek nie af van sy gene, persoonlikheidstipe en trauma nie, hoewel dit ’n rol speel. Maar van die manier waarop sy ouers hul eie emosies hanteer.” Dís waarom sommige mense ’n groot terugslag beleef en daarna ’n relatief normale lewe lei, terwyl ander net nooit regkom nie. (Sien kassie “Só dra ouers hul trauma oor” hierbo.)

Insig, net om te verstaan wat met jou gebeur en hoekom, kan klaar ’n groot verskil maak. Jy kan dan vaardighede ontwikkel om jou liggaam se stresrespons te bestuur, sê dr. Harris. En noem ses maniere om giftige stres te hanteer: Oefening, dieet, slaap, bewustheid oftewel mindfulness, psigiese gesondheid en gesonde verhoudings.

Sy vertel aan haar adolessente pasiënte: “Jou lyf maak meer streshormone as ander mense s’n weens jou negatiewe ervarings. Dit kan dus lyk en voel asof jy vinnig kwaad word, dat dit moeilik is om jou impulse te beheer en jy makliker siek word as jy oorweldig voel.” En die reaksie: “Dan is ek nie mal nie?”

TRAUMA EN GESONDHEID

Die navorsers van die Adverse Childhood Experiences-studie het 17 500 volwassenes uitgevra oor negatiewe kindertyd-ervarings, oftewel ACE’s. Die groep het bestaan uit 70% wittes, van wie 70% tersiêre opleiding gehad het. Dus middelklas, bevoorreg. Vir elke “ja” word ’n punt by jou ACE-telling gevoeg. Sowat 67% het minstens een ACE gehad en 12,6% (1 uit 8) 4 of meer. Voorts was daar ’n verband tussen ACE’s en jou gesondheid. Hoe hoër jou telling, hoe meer gesondheidsprobleme. Met ACE’s van 4 en meer is jou risiko vir chroniese obstruktiewe longsiekte (bv. emfiseem en chroniese bronchitis) keer meer as iemand met ’n telling van 0. So ook vir hepatitis (inflammasie van die lewer). Jou risiko vir depressie is keer meer.

En vir selfdood 12 keer.

KONTAK

James de Villiers: 021 559 6400, jamesdv@iafrica.com

help