DIÉ WEEK IN DIE LANDBOU
VERSKROEI ’n Brand wat op 9 Januarie in die Karwyderskraalvallei in die Overberg ontstaan het en deur sterk westewinde aangedryf is, het twee dae later 10 ha wingerd, 1 ha olyfbome en ’n plaashuis op die wynplaas Hamilton Russell Wingerde verwoes. Werkers het gebrande trosse afgesny om te keer dat dié trosse siektes aan die gesonde druiwe oordra. Die brand het ’n PVCpyp van 160 mm laat smelt en veroorsaak dat besproeiingswater uit een van die damme gelek het. Volgens mnr. Johan Montgomery, plaasbestuurder, het die hele gemeenskap saamgespan om die vlamme te blus. ’n Koue reënbui het laatmiddag gehelp om die brand in bedwang te bring, ofskoon dit vroeg verlede week steeds in van die bloekombosse gesmeul het. Teen druktyd kon die volle omvang van die skade nog nie bepaal…