IN ’N BLIK
OU STAATMAKER. Die ikoniese windpomp op ’n vlakte, soos dié een naby Tarkastad in die Oos-Kaap, is só deel van die Suid-Afrikaanse psige soos braaivleis en biltong. Windpompe stel Suid-Afrikaanse boere sedert die 1800’s in staat om ondergrondse water aan te wend vir veesuipings of ander landboudoeleindes. Die eerste windpompe wat in Suid-Afrika gebruik is, is aanvanklik ingevoer, hoofsaaklik vanuit Amerika, asook Duitsland, Engeland, Kanada en Australië. Weens die probleme met invoer tydens die Tweede Wêreldoorlog is Suid-Afrika gedwing om sy eie windpompe te ontwikkel en vervaardig. Teen 1957 is daar glo tot nagenoeg 12 000 windpompe per jaar verkoop, waarvan die meeste plaaslik vervaardig is. Die gewildste windpomphandelsmerke in daardie stadium was Climax, Gearing, M&S Rotor, Malcomess-Bufallo Double Geared Oil, Southern Cross en Springbok.…