LEES ONS NOG?
My eerste kennismaking met lees het gekom toe ek amper ses jaar oud was. My oorlede ma, Rosie, het toe ons by familie gekuier het, trots ’n kinderboek in my hand gestop en vir my tannie Helen vertel hoe mooi ek al lees, “al was ek nog nie eers op skool nie”. Dit was natuurlik een van die “Jan skop die bal” soort van kinderboeke en volgens my tannie, ma en ouma het ek baie goed gelees. My ouma Nelie het 50 sent (jy kon toe ’n Chappie, of was dit dalk twee, koop met 1 sent) in my hand gestop en ek kon die hele vakansie “swiets” koop. Toe ek sowat tien was, het ek elke dag gelees. As daar nie iets in die huis was nie, het ek…