Liewe leser
My goeie vriendin Lindi vier haar vyftigste en ons trek saam in St. Helenabaai, in ’n huis reg teen die see. Dit voel soos vakansie by ’n eksotiese bestemming. Die kinders swem en ry kano, die meeue jag baldadig in die vlak water van die baai. Vrydag reën dit vlae water. Maar Saterdagoggend begin dit ooptrek, en teen skemeraand is die weer perfek. Ons sit in ’n kring om die vuur voor die huis, ons tone in die sand. Die branders rol in met musikale reëlmaat. “Hoor jy, dit klink soos Griekeland,” sê iemand, “so ’n sagte geklots.” Sowaar ja, dis nie die raserige branders waaraan ons aan die Kaapse kus gewoond is nie; waar die suidooster die golwe so geniepsig kan aanjaag. Onverwags kom die boodskap deur – beurtkrag om 22:00. Ons…