Waarheen volgende?
“Ná ’n heerlike naweek in die Sederberg het ek besef ’n mens kan twintig sulke naweke deur die jaar versprei vir dieselfde prys as een oorsese vakansie.” Met die lig wat al hoe helderder skyn aan die einde van die pandemietonnel, kom ek al hoe meer agter ek is aan die planne maak. Ons kollegas by Weg praat van ’n klassieke reisplan, en die blote gedagte daaraan om my gesin in die kar te laai en saam met ’n klompie vriende die pad te vat laat my mond behoorlik water. Ek wil op my kampstoel sit en na ’n groot vuur kyk, met ’n koue lafenis in my hand, ’n warm tjop en braaibroodjie in die braaibak, en die geluid van my gunstelingmense se stories en die gelag van ons kinders in…